Monday, February 19, 2018
Text Size

Alec Goliath

“Daar moet ’n beter sinchronisasie tussen die verskillende organisasies in Worcester wees sodat ons dieselfde doelwitte kan bereik.”

Só sê Alec Goliath, stigter en eienaar van Eagle Marketing en Business Surgeon.

Goliath (52) is een van die nuwe bestuurslede van die Worcester Besigheidsforum (WBF) en is verantwoordelik vir (portefeulje) klein besigheidsontwikkeling.

Op die huidige oomblik is die WBF se klein besigheidsontwikkeling-portefeulje besig om werksessies met ’n groep van die Kibuttz Change Makers-projek te hou. By die werksessie word praatjies oor hoe om ’n tender uit te werk, hoe om databasis- vorms te voltooi en hoe om ’n besigheid wettig te hou, aangebied. “Ons wil die jeug met kennis bemagtig deur hierdie werksessies,” sê Goliath.

Hy is ook ’n lid van die besigheidadviseurs-instituut en is ’n geakkrediteerde belastingpraktisyn en skuldberader.

Volgens hom is daar groot potensiaal in klein, medium-en mikro-ondernemings in Worcester, maar voeg by, die enigste manier hoe die sektor sal groei toon is as die verskillende plaaslike maatskappye mekaar ondersteun.

“Ek wil graag hê dat alle klein of groot maatskappye deel word van die forum sodat ons een enorme mag kan vorm sodat ons plaaslike ekonomie beter groei kan toon.”

Goliath sê die uitdagings in Worcester bly misdaad, werkloosheid en ’n skrikwekkende getal haweloses wat in die sentrale sakekern rondloop.

Toe die Standard vir hom vra wat sy visie vir die dorp is het hy gereageer deur te sê: “Ek wil bitter graag sien dat elke klein maatskappy volhoubaar is, sodat daar meer werk geskep kan word en in dié sin, sal ons die dorp se uitdagings aanspreek.”

Goliath is ’n mense-mens en het ’n unieke talent om uitstekende besigheidsplanne vir entrepreneurs uit te werk.

Hy is in 1962 in Oudtshoorn gebore.

Om te ontspan speel hy skaak en luister na musiek, maar is ook mal oor lees.

’n Goeie vennootskap tussen die Breedevallei-munisipaliteit en die WBF is van uiterste belang omdat die een wil hê die dorp moet groei en die ander se doel is om maatskappye op te bou.

“Beide die BVM en WBF moet saamwerk om hul doelwitte te kan bereik.

“Die vennootskap is tot die voordeel van alle inwoners in die vallei,” het Goliath gesê.

Saamwerk vir Groei Nodig

MATTHEW SHELDON Worcester Standard

WBF Login